Ter wille van liefde – Susan Olivier

Dis ’n lang man. Sy wit hemp en kakie chino’s beklemtoon die forsheid van sy lyf. Sy pet verbloem sy gesig. Dit maak haar benoud, en sy retireer instinktief. Tot haar lyf teen die warm bakwerk van die motor druk.

Hy beweeg stadig nader, sy hande gemaklik langs sy sye. Daar is niks dreigends in sy houding nie, maar haar spiere pyn van spanning. Sy kyk verbouereerd rond. Waarheen kan sy vlug?

Hy haal sy pet af. “Hallo, Anja.”

Anja trek haar asem stadig in. Riekert. Hoe toevallig. En ironies. Op die elfuurvlug het sy ’n onrusbarende hoeveelheid tyd bestee aan plannetjies om hom in die volgende paar dae te vermy. Nou loop sy waaragtig heel eerste in hom vas.

“Hallo, Riekert.” Haar mond is kurkdroog en haar hart klop onbedaarlik. Dis reaksie op die ongeluk, troos sy haarself. Dit gaan nie oor die aantreklike vreemdeling wat voor haar staan nie. Dis Riekert, maar ook nie. Wanneer laas het sy hom sonder ’n baard gesien? Vir die eerste keer kan die manlike lyne van sy gesig waardeer word. Sy donkerbruin hare is nou in ’n modieuse styl geknip. Waar is die ou Riekert met sy slordige, lang hare en rankerige lyf wat altyd in ou jeans en ’n gekreukelde T-hemp rondflenter? ’n Verstommende transformasie het plaasgevind. In hierdie geval is ’n verandering beslis ’n verbetering. Het ’n stylkonsultant hom beetgekry? En indien, hoekom nou die moeite doen? Is daar oplaas iemand in sy lewe wat hy graag wil beïndruk?

Een ding het wel dieselfde gebly, die wyse waarop sy donker oë na haar staar. Uitdrukkingloos. Nie ’n sweempie skok of verbasing nie. Dis hoe hy is. ’n Geslote boek. Dit het haar eers frustreer. Toe inhibeer. Later het sy haar emosies en opinies teruggehou. Presies soos hy met haar gemaak het. Daar was wel een onderwerp waaroor hy nie uitgepraat kon raak nie. Sy geliefde geboortedorp Glenville. Haar kritiek oor die dorp het gelei tot vele argumente tussen hulle.

Henk het drasties verskil van sy ouer broer. Dis dalk hoekom sy vir hom geval het. Hy was pret. Hulle het dieselfde taal gepraat. Mal oor tennis. Mal oor die stad. ’n Afkeer van eng mense en kleindorpse mentaliteit. Sy het geweet wat hy dink. Wat hy voel. Helaas, dit was bloot ’n front. ’n Leuen. Hy het voorgegee om iets te wees wat hy nie werklik was nie. Hy het haar verkul. Nogal met haar beste vriendin Shani. Dit was ’n hartverskeurende ontdekking.

Maar dit was mos haar skuld. Dis wat hy haar toegesnou het toe sy hulle uitvang. Nou nog kan sy nie glo dat hy die arrogansie gehad het om die blaam te verskuif nie. Hoe kon sy haar so misgis met hom? En nog erger, hoe kon Amelia haar aan sy kant skaar? Dit het ’n kloof tussen hulle veroorsaak wat tot met haar dood nie oorbrug is nie.

Daarom was hulle gesprekke oor die foon maar heel oppervlakkig. Anja wou niks van die bure hoor nie. Sy kon egter nie alle nuus vermy nie. Amelia het haar vlugtig ingelig van Henk en Shani se troue. Slegs twee maande ná Anja se verhuising. Agt maande later moes sy hoor hul dogtertjie is gebore. Ná albei die gesprekke was sy siek van skok. Dit was egter nie die enigste trauma wat sy in die laaste ruk beleef het nie. Die opkikkerskandaal het alles oortref. Haar tennis het haar staande gehou in die tyd van verlies en vernedering ná Henk se ontrouheid. Toe moes sy dit ook later prysgee.

Sy sien hoe Riekert haar ook bekyk. Haar voorkoms het egter nie veel verander nie. Haar blonde hare is wel ’n rapsie korter, dit val nou in sagte lae om haar fyn gesig. Sy het weggedoen met die praktiese poniestert van ’n aktiewe sportvrou. Sy dra steeds min grimering, net genoeg om haar groen oë te aksentueer, rooi lipstiffie vir dramatiese kleur in haar gesig.

Gelukkig kan hy nie die letsels op haar siel sien nie. Hy weet nie van die uitmergelende dae saam met kundiges om die dwelmuitslae teen te staan nie. Die vretende bekommernis oor die stygende finansiële uitgawes aan prokureurs en kundiges om haar saak te stel nie. Die energie wat dit vereis het om terselfdertyd kop te hou met haar studie. Die leemte wat geskep is toe sy nie meer tennis mag speel nie. As Riekert sou vra, sal sy hom kan oortuig die ruk in Kalifornië was die beste van haar lewe. Sy weet egter dis ’n leuen.

“Welkom tuis, Anja.” Riekert buk om haar te soengroet, maar sy tree vinnig buite sy bereik.

O nee, hy beter sy hande tuis hou. Sy het nie lus vir ’n repetisie van hulle skreiende afskeid nie. Hoekom het hy, wat altyd op die kantlyn staan, wraggies op die verkeerde oomblik betrokke geraak in haar lewe? Sy was geregtig om slagoffer te speel ná Henk se verraad, maar toe verwyt sy haarself oor sy troos in Riekert se arms gevind het. Dit was Riekert se skuld, hy het ’n benarde situasie uitgebuit.

“Hierdie land is lankal nie meer my tuiste nie.” Ter stond berou sy haar kwaai woorde. Hoekom met die intrapslag skoorsoek? Dis so onnodig. Sy is nie meer die onbeholpe tiener wat die taktiek uitgedink het teen sy beterweterigheid nie. Sy is nie hier om te baklei nie. Sy wil net haar sake afhandel en padgee. Dis glad nie so moeilik om deur te voer nie.

“Natuurlik nie. Hoe kon ek my so misgis?” Hy buk by die voorste wiel. “Pieter het vir my ’n boodskap gestuur oor jou ongeluk. Die as het groot skade,” bevind hy ná ’n rukkie. “Het jy die gat getref?”

“Die gat het my heeltemal onkant gevang. Ek het konsentreer op die mis, en toe is ek skielik op die gat.” Anja se blik verskerp op hom. Hoekom lyk hy nou so bleek? Sy hoop nie die gebeure het die herinnering aan sy ouers se ongeluk by hom opgeroep nie. Hulle het ook op die pad beheer van hulle motor verloor en oor die afgrond getuimel. Die polisie het hul liggame eers drie dae later gevind. Riekert was agtien, Henk was maar dertien toe hulle wees gelaat is.

“Dit kon erger gewees het. Pieter moes jou gewaarsku het oor die spoelgate in die pad. Dis hoekom ek met ’n viertrek rondry. Die sedanmotors tel altyd skade op.” Hy kom regop. “Het jy die huurmaatskappy hieroor ingelig?”

“Nog nie. Ek wou eers hulp kry uit die omgewing. Die takkantoor is in Durban. Hulle sal te lank vat. Ek wil nie hier in die donker wag nie.”

“Stuur vir hulle ’n boodskap. Die motor kan nie die hele naweek hier staan nie, dit sal gestroop word. As hulle instem, kan ek met iemand in Glenville reël om dit te kom haal.”

Sy tik vinnig ’n boodskap. Hy dra haar bagasie, twee tasse en ’n tennissak, na sy Jeep. Sy reis nog altyd lig. Miskien sal sy meer besittings aanskaf wanneer sy in Pretoria nesskop.

Riekert hou die passasiersdeur oop. Teensinnig klim sy in. Sy wens dit was ’n ander hulpvaardige ou. Dis ’n ondankbare gedagte, want sy kan kwalik onder die omstandige bekostig om uitsoekerig te raak. Die helpende hande staan nie hier tou nie. “Ek het jou boodskap oor Amelia se dood gekry, dankie.” Sy wil die ongemaklike onderwerp agter die rug kry. Wat het hy gedink van haar afwesigheid by die begrafnis? Hoekom pla dit haar ooit? Sy skuld niemand ’n verduideliking nie. Vir hom ook nie.

“Ek het nie geweet of ek mag bel nie, toe vra ek Pieter om my simpatie oor te dra.”

Koop Ter wille van liefde hier: https://lapa.co.za/ter-wille-van-liefde 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>