Toe vind ek jou – Ilze Beukes

Hy trek haar aan haar hand van die bank af op. “Kom ons gaan eet iets. Ek is ook flou van die honger. Sorg dat jy soggens eet.” Sy stem klink besorg.

Sy knik. “Ek sal so maak.”

“Wat ek eintlik wou kom sê, is dat Amanda se dogtertjie netnou met ’n keisersnee gebore is.”

“Ag, Moeder! Het alles goed afgeloop? Almal oukei?”

“Ja, dit gaan goed met albei. Ons gaan steeds vanaand inloer?”

“Ja, asseblief.”

Olivia gaan sit saam met Jean-Luc by ’n tafel in die skaduwee aan die buitekant van die restaurant. Die soet koeldrank laat die bewing in haar binneste bedaar. Sy doen maar wat sy haar lewe lank doen, onderdruk haar gevoelens en ontsteltenis. Alles wat so pas gebeur en haar sielkundig onderstebo geklap het, onderdruk sy om later te oordink. Sy vertel van die funksie, die skattige baba en dat almal gelukkig en tevrede was. “Amper vergeet ek, Luchrisha stuur groete.”

’n Spiertjie begin in sy kakebeen spring en hy word bleek. “Dankie.”

Daar heers ’n kort stilte voordat hy vra: “Ken jy die omgewing?”

“Nie regtig nie. Ons familie bly almal in Malmesbury se wêreld. Dis waar ek as kind die meeste skoolvakansies gaan kuier het.”

“So dit was net jy en jou ma in die Kaap? Al die jare?”

“Ja.”

Sy oë gly oor haar gesig, kyk aandagtig. “Jy is maar ’n geslote boek, of hoe?”

“Min of meer soos jy met Luchrisha?”

Sy gesig raak bleker. “Touché, jy het gehoor.”

Olivia knik. “Ek is ook ’n goeie luisteraar.” Sy glimlag.

“Sal onthou. Het jy ’n trekpleister wat in die Kaap agtergebly het?”

Haar hart spring uit ritme en sy voel die hitte van sy woorde in haar opklim. Hoekom sou hy wou weet? Sy lag dit af. “Daar is nie so iets nie.”

Hy kyk stil na haar. Waaraan sou hy dink?

“Hoe laat is besoektyd vanaand . . . by die hospitaal, bedoel ek?”

“Seweuur, ek kry jou so twintig voor sewe.”

“Ek sal gereed wees, dankie.” Na ete stap sy terug na haar veilige hawe. Sy gaan lê op die bank, voel oorweldig deur haar emosies. Die ontmoeting met Mia en nou haar pa. Dan die gevoelens wat sy besig is om vir Jean-Luc te ontwikkel, maar sy hart is steeds gebreek. Hoe gaan sy ooit die moed bymekaarskraap om haar pa te konfronteer as hy net met sy teenwoordigheid so ’n uitwerking op haar het?

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>