Verband op sy hart – Ciska Olivier

Verband op sy hart – Ciska Olivier

“Ja?” antwoord Annabel sonder om van die rekenaar af weg te kyk toe daar ’n klop aan haar kantoordeur is.

Toe daar nog geen reaksie vanuit die deur kom nie, kyk sy op. Haar vingers ruk tot stilstand op die sleutelbord. Dit voel of die kantoor te klein raak en al wat sy onthou, is Cornelia se woorde die vorige aand. Deurdringende blou oë. Die paar wat egter op haar gerig is, behoort aan die man aan wie sy toe gedink het.

’n Lang oomblik staar hulle net na mekaar voor hy sy keel skoonmaak en breed glimlag. “Dis ’n aangename verrassing.”

Sy sluk en ruk haarself reg, staan dan vinnig op. “Ek is nie seker hoekom nie, maar hallo.”

Die kuiltjie wat in sy linkerwang keep, trek haar oë soos ’n magneet. Haar maag maak ’n bollemakiesie en haar hart het haar heeltemal verlaat.

“Jy lyk goed. Ek het natuurlik nie besef dat jy die vuurvreter is waarteen ek gewaarsku is nie.”

Dit ruk haar aandag terug na sy oë en onseker of sy verontwaardig of gevlei moet voel, skud sy haar kop. “Dit beteken?”

“Die verkoopsagent het genoem dat . . .”

“Moet nie sy naam in my teenwoordigheid noem nie,” bars sy verontwaardig uit, haar reaksies op hom tydelik vergete. “Ek moes dit geweet het. Die lae . . .” Sy keer haarself en moet haar asem stadig intrek en haar gebalde vuiste met moeite ontspan. “Ek sal dit waardeer as jy enigiets wat hy oor my te sê gehad het vir jouself hou. Waarmee kan ek help, Richard?”

Die ondersoekende uitdrukking in sy oë vertel haar dat hy nie die saak daar wil laat nie, maar hy knik tog na ’n oomblik en wys na die stoel voor haar lessenaar. “Mag ek maar sit?”

Sy vergeet haar iesegrimmigheid teenoor Darius. “Sekerlik. Koffie?”

Die verrassing om hom ná sewe jaar weer te sien en die feit dat hy nog net so sondig aantreklik is, maak haar ongemaklik. Des te meer omdat haar liggaam skielik weer vir haarself vreemd voel. Sy moet keel skoonmaak voor sy kan praat. “Hoe kan ek help?”

Hy glimlag en skud sy kop. “Dit gaan interessant wees. Hoe gaan ek en jy saam in hierdie besigheid werk?”

“Wat bedoel jy?” Terwyl sy dit vra, besef sy egter dat hier moeilikheid kom. Veral toe sy onthou wat hy oomblikke tevore oor die agent gesê het.

“Ek het die hotel gekoop, Annabel.”

’n Duisend gedagtes skiet tegelykertyd deur haar kop, maar die mees prominente een is: net nie dit nie.

“Ek en jy sal dus iets moet uitwerk oor ons geskille.”

Sy skud haar kop in ongeloof en druk haar vingerpunte teen haar slape. “Dis al wat ek nou nog nodig gehad het.” Sy kyk op. “Hoekom het jy my nie vroeër gewaarsku nie?”

Sy donker wenkbroue trek op. “Ek? Hoe presies moes ek jou gewaarsku het en waarteen? Ek het nie eens geweet jy is die bestuurder nie.”

“Niemand het my naam genoem nie?”

“Nie in soveel woorde nie,” sê hy stadig.

Met gevoude arms leun sy terug in haar stoel. “Wel, jy weet baie goed dat ek nie van jou eiewysheid en baasspelerigheid hou nie. Ek is seker dit het net verdubbel sedert ek jou die laaste keer gesien het. Is jy alleeneienaar?”

Hy grinnik. “Ek sien jou eerlikheid is ook nog net so vlymskerp. As jy van die hotel praat, ja, ek is alleeneienaar, maar nie net van hierdie een nie.”

“Ook nog net so trots soos altyd.”

“Gaan ons twee regtig weer stry, Annabel?”

“Ek kan nie onthou dat enige van ons gesprekke ooit nié in ’n argument ontaard het nie.”

Hy knik. “Dis dalk so, maar intussen het ons albei darem seker al iets bygeleer?”

Dit grief haar dat hy reg is. Sy weet sy het al intussen geleer om baie meer geduld aan die dag te lê en beuselagtighede nie toe te laat om haar so vinnig om te krap nie. So hoekom het sy dan so lus om met hom te stry?

Daar is ’n klop aan die deur en hulle koffie word ingebring.

Sy wag tot die deur weer toegaan. “Nou goed. Jy is reg. Ek is seker daarvan ons kan soos twee beskaafde mense oor die besigheid beslis. Ek wil net een puntjie vroegtydig uit die weg ruim.”

“Dit is?”

“Het jy geweet ek wil aandele koop?”

Die verrassing op sy gesig staaf haar vermoede dat Darius daardie brokkie inligting doelbewus verswyg het.

“Ek is jammer. As ek geweet het, sou ek met jou kontak gemaak het.”

“Jy sou?”

Hy glimlag effens. “Ons moet almal iewers begin.”

Sy knik, maar woede teenoor Darius groei in haar binneste.

“Ek is ernstig.”

Verband op haar hart is hier beskikbaar:

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>