Perfek vir my – Marilé Cloete

“Cassie is ’n fisioterapeut, Franna,” tjirp Essie vrolik van voor af. “Maar sy werk met diere, nie met mense nie. Dalk is sy presies wat jou Lea nodig het.”

“Is jy nou lekker laf, Essie?” kap Cassie terug. “Ek is beslis nie beskikbaar vir Francois se familie nie. Jy weet mos ek werk glad nie meer met mense nie. En iemand met toenemende verlamming klink vir my myle buite die gebied van ’n fisioterapeut. Ek kan eintlik nie glo jy ry hier saam met ons terwyl iemand na aan jou so siek is nie.”

Henk en Essie lag so dat Cassie se laaste woorde nouliks hoorbaar is. Francois probeer hard om sy gesig sedig te hou. Hier is nog ’n kans om haar siel so ’n bietjie uit te trek. “My ma is mos daar. Sy kan baie goed oordeel wanneer ingryping nodig is.”

Nou word die frons op Cassie se gesig nog groter. Sy is eintlik flippen pragtig as sy so verontwaardig en ’n bietjie verward is. Maar sy is nog pragtiger as sy vriendelik en ontspanne is. Eintlik is sy onder alle omstandighede vir hom pragtig en dit raak vir hom ’n yslike probleem. “Wil jy vir my sê sy is nie in die hospitaal nie? Ek kan nie verstaan dat . . .”

“Cassie, Lea is nie ’n mens nie,” lag Essie. “Sy is Franna se hond.”

’n Lieflike blos versprei oor Cassie se gesig. “My liewe hel, kan julle dit nie net sê nie? En jy, Francois, speel te lekker saam om my vir die gek te hou!”

Nou kan hy nie meer sy lag hou nie. “Ek is jammer, Cassie, die versoeking was net te groot. Maar ek het darem nooit gesê Lea is ’n mens nie. Ek het net nie genoem dat sy ’n hond is nie.”

“Ek het jou al gesê ek hou nie daarvan as mense vir my lag nie.” ’n Klein stukkie weerloosheid is sigbaar deur haar verontwaardiging.

Onmiddellik voel hy soos ’n skurk. Hy wil nie met hierdie vrou afgepaar wees nie. Hy wil eintlik met geen vrou afgepaar wees nie, daarvoor geniet hy sy vryheid heeltemal te veel, dankie. Maar dit beteken nie dat hy dit geniet om haar seer te maak nie. Berouvol, impulsief, vat hy haar hand. “Ek is regtig jammer, Cas, ek het dit nie lelik bedoel nie.”

Sy skud sy hand blitsig af, asof hy ’n gevaarlike kiem aan haar kan oordra. “Ja, toemaar, dis nie ’n skeepsramp nie.”

Hy trek sy hand terug, deeglik op sy plek gesit. Hy moet pasop vir hierdie vrou. Sy het die vermoë om hom deurmekaar te klits. Dit maak hom baie, baie onrustig.

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>