Gelukkige nommer 13 – Corné La Camera

Renate neem oorkant hom plaas terwyl hy haar skepties op en af bekyk. Heel duidelik het sy klaar die toets gedop. “Hallo, Marius, lekker om uiteindelik te ontmoet,” sê sy en steek haar hand na hom toe uit. Hy skud haar hand maar sê nie ’n woord nie. Sy skuif ongemaklik op haar stoel rond. Die man aan haar linkerkant loer nuuskierig agter sy skootrekenaar uit. Die twee jong dames by die tafel agter hulle bly vir hulle kyk, en giggel soos twee bakvissies.

“Lieflike plekkie dié, jy het goeie smaak,” probeer sy weer ’n gesprek aanknoop. Hy mompel net iets.

Sy kyk weer om haar rond. Dit is regtig ’n baie oulike eetplek. Lyk nie na ’n gesinsrestaurant nie. Tafeltjies is maar kleinerig, en die meeste mense sit met ’n koerant of rekenaar voor hulle. Dit blyk gewild te wees by sakelui. Gesofistikeerd. Gelukkig het sy moeite met haar voorkoms gedoen anders het sy lelik uitgestaan tussen die klomp. Sy sal ’n moet plan maak om hom aan die praat te kry want sy is nou vrek honger maar sy sal nie kan eet as die atmosfeer so styf is nie.

En dan is dit asof ’n gloeilamp in haar kop aangaan. Hy hou mos daarvan om oor homself te praat. “Goeie dag by die gym gehad, Marius?” vra sy kamma belangstellend. En daar is dit asof ’n ander mens oorkant haar sit. Sy mond verander skielik in ’n resiesperd. Dis eierwitomelette, proteïenskommels, twee uur op die masjien vir bene, een uur op daai masjien vir maagspiere.

Eerlikwaar, sy het hom al by die proteïenskommel verloor. Sy knik asof sy belang stel, maar waaraan sy eintlik dink, is hoe sy gaan wraak neem op Connie. Wat het haar besiel om te dink dat hulle twee oor die weg sal kom? Dalk was dit om haar te wys dat die vorige afsprake glad nie so sleg was nie.

Gelukkig is die spyskaart groot en sy skuil later daaragter. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe meneer Skootrekenaar van oor tot oor glimlag. Hy lig sy hand en wink die kelner nader, maar stuur hom toe na hulle tafel toe. Die man is fantasties. As hy nou nie ’n totale vreemdeling was nie, het sy hom wragtig ’n soen gegee. Toe die kelner langs die tafel staan, raai Renate Marius aan om eerste te bestel want sy is nog onseker oor wat sy wil eet. Eintlik het sy ’n plan van haar eie.

Hy bestel mineraalwater, groenslaai en drie geposjeerde hoenderborsies, sonder die vel natuurlik, en sonder enige souse en olies. Dit klink maar vaal. Toe die kelner vra: “En vir die dame?” laat sy nie op haar wag nie. “’n Cappuccino, met room natuurlik, en dit sal fantasties wees as jy vir my van daardie sjokoladeskaafsels kan oorstrooi. Dan sien ek julle het ’n wonderlike verskeidenheid koeke en terte. Is daar enigiets wat jy kan aanbeveel?” Sy loer onderlangs na Marius. Dit lyk of die man enige oomblik gaan ontplof. Die kelner beveel die swartwoudkoek aan en dis dan ook wat sy bestel.

Ná die kelner weg is met hul bestelling heers daar weer doodse stilte by hul tafel.

“Jy wonder seker hoekom ek koek bestel het vir voorgereg?” vra Renate en sy moet haar bes doen om nie te lag vir die uitdrukking op sy gesig nie. Sy gee hom nie kans om te antwoord nie. “Jy sien, ek en Connie redeneer so: As jy voorgereg en hoofgereg geëet het, is mens so vol dat jy nooit by nagereg uitkom nie. Ons het toe besluit om eers nagereg te bestel en dan daarna te besluit waarvoor ons kans sien. Dit is tog eintlik hoekom ’n mens gaan uiteet, is dit nie? Dit gaan als oor die nagereg.”

’n Rukkie later verskyn die kelner met hul bestelling en verbreek vir ’n oomblik die stilte. Dankie tog. Die cappuccino het nie skaafsels op nie, maar groot sjokoladekrulle. Sy het nog nooit so iets gesien nie. Dit lyk amper te mooi om te drink. Marius gluur haar aan en sy vat ’n groot hap van die koek. Die geluide wat sy maak, kon amper ’n ouderdomsbeperking gehad het. Hy krap net in sy slaai rond. Nee, wragtig, sy gaan nou ’n einde hieraan maak al beteken dit sy gaan die helfte van die koek verbeur. Ná die tweede hap verskoon sy haarself van die tafel en stap kleedkamer toe.

Sy bel Connie maar gee haar nie eers tyd om te praat toe sy antwoord nie.

“Wat het jou besiel? Maak asseblief seker dat jy my oor vyf minute bel sodat ek ’n verskoning het om so gou moontlik hier weg te kom. Ek gee nie om wat dit is nie, doen dit net en dan, my sogenaamde vriendin, het ek en jy ’n appeltjie te skil.” Renate druk die foon dood, haal diep asem en stap terug.

Gelukkige nommer 13 is hier beskikbaar:

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>