Haar hart se tuiskoms – Anna van Tonder

Die grootste verrassing is egter toe Louis met hom na haar toe loop. “Jou buurvrou, Lana Kruger. Miskien het julle al ontmoet, Daniël. En Lana, dit is die nimlike dokter Visser.”

Daniël se blou oë knipper agter die brilglase en Lana merk die verleë kyk. Reg so, voel nou maar lekker skuldig, dink sy leedvermakerig. Verbaas sien sy hoe sy mondhoeke toe sowaar in ’n glimlag lig. Sy blou oë lag vriendelik agter die brilglase. “Ons het inderdaad al ontmoet, Louis, maar sonder name, dus kan ek nou opreg sê aangename kennis, Lana.”

Verstom staar Lana na hom. Natuurlik het hy nie haar naam onthou nie, want hy was die josie in vir haar, het homself nie eens bekendgestel nie. Sy knik styf. “Aangename kennis, dokter Visser.”

“O, nee, hier in Lekkerbly is ek net Daniël, asseblief.”

Tik my met ’n veer om, dink Lana en moet keer om hom nie aan te gaap nie. Kan dit dieselfde mens wees, of het hy dalk ’n tweeling? “Jy kan my ook Lana noem.”

Die geur van braaivleis hang reeds die lug vol en haar maag vertel haar sy is honger. Sy is nou baie bly sy het gekom; hoe eensaam sou dit nie alleen by die huis gewees het nie?

“Mense, julle kan julle borde kom hou vir die vleis en wors,” bulder Louis gemoedelik.

“Die bykos is op die gedekte tafel op die stoep. Ons sal sommer daar aansit, ’n mens eet tog gemakliker by ’n tafel,” laat Hettie ook van haar hoor.

Heelwat later, ná die nagereg en koffie, besluit Lana dis huistoegaantyd. Van die ander gaste begin ook opstaan en groet.

“Hettie, dit was regtig ’n heerlike aand en Louis, die vleis was tops. Baie dankie dat julle my genooi het,” groet sy hulle dankbaar.

Hettie se gesig plooi van vriendelikheid. “Ja, anders het jy alleen by die huis gesit, hartjie. Jy weet nou waar ons bly, Lana, jy is enige tyd welkom hier.”

Iemand raak aan haar arm en sy sien dit is Daniël. “Ek stap sommer saam, Lana. Laat ek net ook gou groet.”

Hulle stap in ’n gemoedelike stilte onder die sterrehemel terug met slegs hulle voetval hoorbaar. By haar voordeur hou hy sy hand uit. “Sleutel?”

Lana oorhandig dit. Wanneer laas het ’n man haar voordeur oopgesluit? Toe die deur oopswaai, skakel sy die portaallig aan en kyk na hom om te groet.

“Lana,” sê hy voordat sy ’n woord kan uitkry, “ek vra verskoning oor my optrede daardie dag toe jy ingetrek het. Ek was onredelik oor ’n nietigheid. Ek het gesien hoe jy my daarna vermy en voel baie skuldig. Moet asseblief nie vir my bang wees nie.”

Sy woorde gee haar vrymoedigheid. “Waarom was jy so omgekrap?” Nou het sy dalk te ver gegaan, dink sy benoud.

Daniël vee met sy hand oor sy gesig en toe hy dit wegvat, sien sy hoe sy oë in die lig van die portaal skreef. “Ek moes daardie dag sien hoe ’n jongman se been onderkant die knie geamputeer word. Hy het infeksie in die been gekry ná ’n operasie wat suksesvol was. Weet jy hoe vreeslik dit is om in sy oë te kyk, om nie eens te praat van toe ek sy ouers te woord moes staan nie.”

Lana tree spontaan nader en sit haar hand op sy arm. Geen wonder hy was so opgeruk nie. “Maar dit was tog nie jou skuld nie, Daniël? Hospitale wemel van bakterieë, want daar lê mense met allerlei siektes en al word daar hoe skoon met ’n wond ná ’n operasie gewerk, kan bakterieë wel die wond binnedring.”

“Dankie, Lana. Gelukkig kan hy gehelp word met ’n prostese en verder ook met berading om sy gemoed positief te kry.” Hy glimlag en sy oë verhelder weer. “Nou ja, genoeg van hierdie gewroeg. Ek moet nou gaan. Sluit jou deur en lekker slaap, buurvrou.”

“Dankie. Ek hoop jy slaap ook rustig.”

Lana sluit die veiligheids-, asook die houtdeur en talm vir ’n rukkie nog in die portaal. Dit voel of haar hart sag gekussing word deurdat Daniël haar in sy vertroue geneem het en haar van die jongman vertel het. Dat hy diep daaroor gewroeg het, en dit nog steeds doen, kon sy hoor. Miskien het dit hom gehelp om daaroor te praat.

Dan het sy darem iets vir iemand beteken. Dit laat haar goed voel. En sy het nou ’n heel ander indruk van Daniël. Haar buurman is inderdaad ’n goeie mens.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>