Leisels na liefde – Cecilia Steyn

“Jy kan ophou om my perde te paai. Ek weet nou jy is hier,” sê sy en probeer kwaai klink. Hy sal nie so selfvoldaan wees as Royce sy hand afbyt nie. Maar die ander perde is klaarblyklik ook bly oor die man wat hulle met lekkernye en ’n sagte stem omkoop. “Dan is dit dalk hoekom Grace vanoggend so hardkoppig was. Sy wou nie eet nie,” erken sy.

“Dante wil ook nie eet nie,” sê Markus met ’n sug. “Luister, Livie, ek het nie bedoel om op jul eiendom rond te sluip nie. Ek weet wat goed is vir my maar ek moes net weet of hy siek is en of hy sy hart verloor het. Die uithouritseisoen begin binnekort en hy moet superfiks en gesond wees.”

Olivia knik. Sy kan ook nie bekostig dat Grace optree soos sy vandag opgetree het nie. Sy was so buite haarself dat Olivia haar nie vir die rouritueel kon gebruik nie. Sy moes een van die ander merries die taak oplê.

Haar vingers vou stywer om die koue metaal toe Markus die leemte tussen hulle kleiner maak en nader aan haar stap. “Soos jy sien kom ek in vrede. Dalk kan jy nou die geweer neersit?”

Hy hou sy hand na die geweer en Olivia gee dit gewillig. Vir ’n oomblik het sy vergeet dat sy nog die wapen soos ’n reddingsboei vasklou. Toe hy dit by haar vat en hulle vingers weer aan mekaar raak, kan Olivia hom nie antwoord nie, want sy probeer daarop fokus om net normaal asem te haal. Hier staan Markus Verhoef in hulle stalle en soos altyd lyk hy goed genoeg om op die voorblad van ’n modetydskrif te skitter. Hy dra ’n wit T-hemp en ligte denim. Die hare krul in sy nek en Olivia wil so graag voel of dit so sag is soos wat dit lyk.

“Hoekom kom jy buitendien met die ding stalle toe?” vra hy vieserig en sit die geweer op ’n hooibaal neer.

“Ek het gedink hier is ’n inbreker en ek was reg,” sê sy en probeer die glimlag uit haar stem hou. Sy kruis haar arms oor haar bors vir ingeval haar T- hemp weggee hoe haar hart in haar borskas spring.

“Baie snaaks,” lag hy. “Asof ek een van die siek perde sal wil steel.”

Olivia hou haar asem op toe sy oë hare vaspen. Die gebaar laat hom stilstaan. Hy druk sy hande in sy broeksakke. Sy vriendelike glimlag word nou deur ’n frons vervang.

“Wag, jy het met ander woorde gedink hier is diewe en besluit om vroualleen te kom kyk of jy hulle kan vang? Is jy nou heeltemal mal, Livie?”

Van wanneer af noem Markus Verhoef haar op haar troetelnaam? En nogal mal ook daarby?

“My pa is oud, Markus. En ná my ma se dood is hy nie meer so op en wakker nie.” Sy sluk haar woorde. Markus Verhoef het nie nodig om te weet dit gaan nie goed met haar pa nie. “Wie anders moet dit kom doen?”

“Hel, ek weet nie. Die polisie? Die plaasvoorman? Daai ou wat ek al saam met jou sussie in die dorp gesien het?”

“Emmir?” vra sy en snork effe te onvroulik. “Ek vermoed hy is useless. Maar ek verstaan wat jy bedoel. Jy het jou punt gemaak. Ek sal nie weer nie, oukei?” Vir wat pla haar veiligheid hom buitendien so? Dis al die tweede maal in drie dae wat hy haar daaroor aanvat.

Markus begin weer nader na haar stap en sy sukkel om op die gesprek te konsentreer. Nou staan hy net ’n paar tree weg, naby genoeg sodat sy die skoon reuk van sy naskeermiddel kan inasem. Skielik wens sy sy het beter gelyk en dat sy nie in ’n ou verbleikte denim en uitgerekte T-hemp was nie. Na die rouritueel wat sy vanmiddag met ’n familie gedoen het, was sy emosioneel uitgeput. Voor aandete het sy gaan bad en gemaklik aangetrek.

Olivia wens sy kan net haar hand uitsteek en aan Markus vat. Hy is dan so naby; sy kan elke stoppeltjie baard en lyntjie op sy vel duidelik sien. Dan flits iets in sy kyk. Begeerte?

Toe Markus so naby aan haar is dat sy dit nie kan hou nie, druk sy verby hom om kamma by Grace te kom. Maar hy vou sy vingers om haar pols. Op die plek vries sy.

“Wat dink jy doen jy?”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>