‘n Blistige onderhoud:
EK SAL DIE GELUKKIGSTE PERSOON IN DIE WÊRELD WEES AS:
• Ek is alreeds gelukkig. Elke dag is ’n nuwe uitdaging, ek doen waarvoor ek lief is, ek het wonderlike mense wat my ondersteun en lief het en die son skyn vandag!
LIEFDE IS SOOS ’n BOKS…
• Lietjies. Dit kan partykeer morsig wees en jy moet dit sagkens hanteer, maar kan die soetste, sappigste, lekkerste lekker wees.
EK’S NIKS AS DIT NIE WAS VIR…
• Die wonderlike mense in my lewe en baie harde werk nie.
AS EK VERVEELD IS, …
• …soek ek ’n boek om te lees. Ek kan eenvoudig net nie rondsit en niks doen nie!
VREDE OMRING MY AS…
• …ek in my huis instap, musiek in die agtergrond hoor speel en daar’s geen vuil skottelgoed nie.
WAAR WIL JY OP VAKANSIE GAAN?
• Hierdie jaar is die plan om na Griekeland te gaan. Ek sien baie uit daarna.
WATSE VERRASSINGS IS IN JOU BEURSIE?
• Tandestokkies. Geen dame mag ’n spinasie-glimlag hê nie!
EK KAN REGTIG LEEF SONDER…
• … kleingeestige mense. En natuurlik daardie onnodige ekstra 10 kg.
NIKS, EK HERHAAL NIKS, KOM TUSSEN MY EN MY…
• … oggendkoffie!!!
IS DIE GLAS HALF-VOL OF HALF-LEEG?
• Half-vol.
WAT’S JOU GUNSTELING WOORD?
• Ongekunsteld
MY TROOSKOS IS…
• … kersies of tamaties. Ja, ek weet dis vreemd!
ALLES IN ’N VERHOUDING IS ONDERHANDELBAAR, BEHALWE…
• … respek.
Linelle se boeke:
AANDELE IN LIEFDE: Na ’n salige naweek by ’n bosveldspa skakel Jeanne haar selfoon aan en binne sekondes verander haar dag en ook haar lewe ingrypend. Haar vennote in Ideale Ontwerpe, ’n suksesvolle argitekateljee, het hulle aandele oorgeteken aan ’n vreemdeling – die wêreldbekende argitek Michael Richter. Haar eerste ontmoeting met Michael skep chaos in Jeanne se gemaklik voorspelbare lewe, en die aantrekkingsvonke wat spat dra glad nie by om die balans, wat so belangrik is vir haar, terug te kry nie. Asof die nuwe vennoot nie ’n groot genoeg uitdaging is nie, probeer sy ook ’n veeleisende kliënt, haar eksentriese beste vriendin en haar lus vir sjokolade bestuur. Jeanne se pogings om nie van Michael te hou nie is onsuksesvol, en sy kan nie die stemmetjie ignoreer, wat hierdie wêreldbekende argitek se belangstelling in haar en haar klein besigheidjie, bevraagteken nie.
OP VOORWAARDE (Maart 2010): As ‘n suksesvolle finansiële adviseur verander Lisa Blignaut se lewe drasties binne een dag. Sy bedank haar werk, verbreek haar verlowing en kry ’n oproep wat haar inlig dat haar oorlede oom sy plaas aan haar bemaak het. Daar is wel ‘n komplikasie – om die plaas te erf, moet sy aan sekere voorwaardes voldoen en Ben Russouw, die aantreklike plaasbestuuder, moet verseker dat sy elke voorwaarde nakom. Sy ruil haar ontwerperssandale in vir trapskoene, klim op ’n vurige perd en leer skiet. Die enigste uitdaging waarmee sy sukkel is om Ben te oortuig dat hulle vir mekaar bedoel is. Wat sal hierdie stadsjapie nog moet doen om die boer te oortuig dat sy opreg is?
TAAL VAN LIEFDE (Julie 2010):
Net omdat Professor Chaz Lakatos half-verplig is om die suksesvolle wynboer, Eben Duvenhage, Hongaars te leer, beteken dit nie dat sy vir sy sjarme gaan val nie. Wanneer die verwenste wynboer haar probeer oortuig dat hulle vir mekaar gemaak is, spat die vonke behoorlik. Sy sal nie weer toelaat dat ’n man haar hart steel nie, selfs al het hy warm bruin oë, ’n onweerstaanbare lyf en ’n aangename persoonlikheid. ’n Onbeplande paar dae saam in Hongarye laat Chaz besef dat dit dalk te laat is en dat haar hart en Eben se hart dieselfde taal praat. Sy wend ’n desperate poging aan om hom finaal af te sit om so doende haar hart te beskerm wat tot ongewenste nagevolge lei. Wat gaan sy doen om dinge reg te stel?
NUWE BEGIN (Desember 2010)
Die aantreklike indringer wat Nikki de Boer met vuurspuwende swart oë wakker maak na haar eerste aand in haar nuwe huis was nie deel van haar plan vir ’n nuwe begin nie. Ruan Uys is Nikki se ongewenste nuwe huisvennoot en toets al haar selfbeheersing met sy onweerstaanbare lyf en middernag oë. Sal Ruan haar kan oortuig dat hy betroubaar genoeg is sodat Nikki hom deel van haar nuwe begin maak?
ONVERSKROKKE REBEL – LINELLE VENTER
(Augustus 2011)
Claudette vaar rebels die Kalahari in met haar antieke sportmotortjie. Toe dié gaan staan, word sy ’n aantreklike mechanic se handlanger in sy werkswinkel. Maar sy moet kies tussen hierdie lewe en haar ander lewe …
MOEILIKE MAN – Linelle Venter
(November 2011)
Op die bouterrein waar Alex as projekbestuurder instap, tref sy ’n besonder moeilike, besonder aantreklike man aan. Maar hy dink sy is bloot moedswillig en lastig. Haar verweer is om skaamteloos met hom te flankeer …
Onbeplande liefde – Linelle Venter
Februarie 2012
Wie Anke wil hê, moet weet die drie tienerseuns wat sy “geërf” het toe haar suster en swaer oorlede is, is deel van die pakket. Hoe sal haar aantreklike nuwe buurman daaroor voel?
Kommentaar (13)