Hy kom teenaan haar tot stilstand. “Wat nou?” Sy voel sy asem in haar nek.
Marile draai om, maak haar mond oop om te protesteer, maar bevind haar skielik baie naby aan sy groot lyf. Dis asof hulle albei ophou asemhaal. Marile se sintuie verskerp onmiddellik. Die geritsel van sy klere toe hy sy arms effens oplig en sy hande op haar skouers sit, sy skoon reuk en sy liggaamshitte teenaan haar is alles baie skerp in haar bewussyn.
Toe sy kop naderbuig, weet sy dat sy onbewustelik die hele aand al hiervoor wag. Vanaf die oomblik toe hy die stola om haar skouers gehang het vroegaand, hou haar hele wese asem op. Hoe is dit moontlik dat sy hom nie kan verdra nie, maar sy begeer dat hy haar moet soen?
Haar lyf beweeg vanself effens vorentoe en kom teen sy vastigheid tot stilstand. Met ‘n suggie gee sy oor toe sy arms om haar gaan en sy lippe op hare neerkom. Haar arms gaan om sy middel en sy beur nog nader aan hom. Hy verdiep die soen en dwing haar mond oop. Die kakao wat hulle laataand saam met die jongklomp by MES gedrink het, smaak pure sjokolade op sy tong. Marile weet dat sy nooit weer kakao sal drink sonder om hul eerste soen te onthou nie.
Eerste soen? Asof daar meer gaan wees! Marile verstok in sy arms. Wat vang sy aan? Sy soen vir Werner Buys en klou aan hom asof sy hom nooit weer wil laat gaan nie. Wat is verkeerd met haar?
Dis asof hulle albei tegelyk tot hulle sinne kom en mekaar onmiddellik laat los. Marile draai blindelings om en druk haar kamerdeur oop. Sonder ‘n woord vlug sy en stamp die deur beslis toe.
Toe sy vir ‘n oomblik skoon verlam daarteen terugleun, lag hy saggies in die gang. “Lekker slaap, Prinses,” roep hy en sy hoor hoe hy met sy gewone lang treë verder gangaf na sy kamer toe stap.
Kommentaar (4)