LAPA Uitgewers het in 2017 ’n e-boekreeks onder die RomanzaLiefde single-handelsmerk begin implementeer. Elke e-liefdesverhaal word vergesel deur ’n bonuskortverhaal. Hierdie is riglyne vir voornemende skrywers wat belangstel om vir RomanzaLiefde te skryf. RomanzaLiefde single is romanses wat lekker en vlugtig lees vir lesers wat nie tyd het om te ontspan met ’n roman of selfs ’n Romanza nie. Lesers kan dit in die motor, op die Gautrain of in ’n taxi/bus op pad werk toe lees.

Die woordtelling is:
• Novelle: 20 000 woorde
• Kortverhaal: 2 000 – 2 500 woorde.
Die vier romanses wat ons maandeliks uitgee in die Romanza-reeks is elkeen 208 bladsye, 107 x 170 mm en die woordtelling is 44 000.
SuperRomanza se formaat is 198 mm x 129 mm en die bladsyaantal is 304. Die woordtelling is 75 000 tot 85 000 woorde.
Beskou dus RomanzaLiefde single as Romanza en SuperRomanza se ongekompliseerde jonger sussie wat haar eie weg probeer vind. Die novelle kan ’n liefdes- of spanningsverhaal wees.

Die sentrale verhaalelemente vir RomanzaLiefde is die volgende:
• ’n Sterk sentrale romanse met geloofwaardige karakters.
• ’n Emosionele belewenis wat die leser dadelik in die verhaal intrek. Die verhaal is karaktergedrewe.
• Die leser moet kan identifiseer met die karakters. Geloofwaardigheid is ononderhandelbaar. Die leser moet haar kan vereenselwig met die karakters se reaksies.
• Die algemene gevoel kan wissel van lighartigheid tot diep emosioneel. Die kompleksiteit van die storielyn is die belangrikste; asook die diepte van karakters en die unieke, kontemporêre hantering van die verhaalgegewe.
• In spanningsliefdesverhale moet die spanningselement en die romantiese element ewe sterk figureer om suksesvol te wees. Die leser weet vanuit die staanspoor dat die held en die heldin a) op mekaar verlief gaan raak en b) die moord of ander geheim sal oplos.
• ’n Sterk verhouding tussen die held en heldin. Daar moet geen twyfel by die leser wees dat die held en heldin mekaar verdien nie.
• Geloofwaardige interaksie. Daar is nie ruimte vir terloopse ontmoetings en toevallige bymekaarkom-kuiers tussen die held en heldin nie. Interaksie moet oortuigend en gemotiveerd wees – sonder om geforseerd voor te kom. Elke interaksie moet die verhouding voortdu.
• Sterk konflik en emosionele belewenis is ’n moet om die lesers te boei. Konflik is baie belangrik, onthou dit moet hulle vir 14 000 van die 20 000 woorde uitmekaar se arms hou.
• Meer showing as telling.
• Emosioneel volwasse karakters.
• Goeie, sterk en moderne dialoog.
• Aktiewe woordgebruik in die teenwoordige tyd.
• Afgeronde einde: Die skrywer moet die drade van die verhaal (liefdesbetuigings, oplossing van konflik en die karakters moet mekaar van hul liefde oortuig) vroeg genoeg begin saamtrek. Die einde moet goed beplan en geloofwaardig wees vir die leser om die ekstase enduit te beleef. Indien die verhaal se einde te vinnig en onvoltooid is, is die hele verhaal ’n anti-klimaks, want die leser voel beroof.
• Die donker kant van die lewe is taboe, omdat die essensie van dié genre idealisme en fantasie is.
• Kortverhale hoef nie noodwendig ’n liefdestema te hê nie, maar moet die nodige diepte hê om die leser emosioneel aan te raak.
• Kortverhale moet ’n sterk begin, ekonomiese taalgebruik en ’n verrassende slot hê.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>