Een dag op ’n slag – Nerine le Roux (Uittreksel)

by Romanza
Een dag op ’n slag – Nerine le Roux (Uittreksel)

Verlig sien Alana die ligte van ’n voertuig in die skemerdonker op die pad tussen die bome aankom. Sy het nie gedink enigiemand gaan vanaand hier verbykom nie.
Maar sy is bekommerd. Een ding wat haar broers haar van kleintyd af ingedril het: Moenie by vreemdelinge in die motor klim nie.
Hulle het egter nie gesê wat ’n mens moet doen as jy so pas jou motor gerol het en dit in ’n diep sloot beland het nie. Veral nie as dit amper seweuur in die aand op ’n verlate pad ’n hele paar kilometer van die eerste woongebied af is nie.
Terwyl sy met haar een hand die bloed van haar gesig wegvee, kyk sy weer af na haar selfoon. Niemand wat sy probeer bel het, reageer nie. Nie haar broer, Adam, haar vriendin, Bea, Tobie, Peet of haar bure nie. Nie dat sy hulle kan kwalik neem nie. Dit is Saterdagaand.
Die bosse en bome waarvan sy gewoonlik nie genoeg kan kry nie, lê hoog en donker weerskante van die pad. Die takke wat met haar uitry na Bea se plot so ruig en weelderig gelyk het, roer onheilspellend, en die blare ritsel in die ligte briesie.
Die ligte word groter en helderder. By die pad bly of padgee? wonder sy angstig. Miskien moet sy maar die bestuurder stop en vra om haar tot by die naaste garage te neem. Maar koerantopskrifte speel voor haar geestesoog verby. Dalk is hy ’n verkragter of ’n moordenaar of ’n psigopaat of ’n ontsnapte misdadiger.
Dis ’n kans wat sy nie kan waag nie. Nie as sy die son môreoggend wil sien opkom nie. En daar is heelwat dinge wat sy nog graag sou wou doen, besef sy skielik. Sy het net eenvoudig nie krag om nou nog vir haar lewe ook te moet veg nie. As die motor eers verby is, sal sy die nooddienste bel.
Terug oor die los klippe op die ongelyke skouer van die pad agter ’n bos in.
Die voertuig ry stadiger.
Met haar lyf inmekaargetrek, moet sy op haar tande byt om nie hardop te kreun van die pyn in haar regterbeen nie. Die pepersproei is styf in haar vuis vasgeklem, en sy sak nog laer in die lang gras af.
Die ligte dring deur die takke en die blare van die bos. Sy sit roerloos, voel die pyn oor haar spoel. Dalk ry hy aan. Maar dan stop die motor. Die enjin luier en die bestuurder se deur gaan oop.
Vir al wat sy weet, word sy binne die volgende paar minute deel van die land se misdaadstatistiek. Sy kan die opskrif net sien – sewe-en-twintigjarige meisie gisteraand langs pad verkrag en vermoor.
En sy sou saam gewonder het: Wat op aarde maak ’n meisie dié tyd van die aand alleen langs ’n verlate pad? Sy soek dan mos vir moeilikheid.
Elke spier in haar lyf is gespanne. Haar oë is stip op die groot man gerig wat in die helder ligte van die motor oor die pad in haar rigting kom. Lank en breedgeskouerd. Korterige donker hare. Netjies aangetrek.
Haar asem jaag asof sy ver gehardloop het, en sy byt op haar lip om die klank te demp.
Hy kom nader, sy oë soekend deur die takke en blare. “Hallo? Hallo?” Sy stem is diep, grof. Dan frons hy en kyk weer, stip. Stadig kom hy om die bos geloop.
Miskien moet sy hardloop. Steeds probeer wegkom. Maar haar lyf is seer en haar kop klop asof iemand wat binne-in haar skedel is, probeer uitbreek. Met die pepersproei soos ’n wapen voor haar, staan sy so vinnig op as wat haar heup haar toelaat, haar hart dawerend in haar borskas. “Stop net daar.”
Hy kom tot stilstand met sy hande effens opgelig. “Ek kom in vrede.” Die ondersoekende blik begin by haar hare en werk af na haar voete. “Is jy oukei? Was jy in ’n ongeluk? Waar is jou motor?”
Sy trek haar oë op skrefies, probeer dink. Wat gaan dit aan die situasie verander as hy weet haar Polo lê op sy dak in ’n sloot? “Hoekom wil jy weet?”
Hy ignoreer dit. “Kan ek jou iewers gaan aflaai?”
Besluiteloos staar sy op na die lang man wat soos ’n groot donker skaduwee voor haar staan. Sy het nie ’n keuse nie, besef sy. Hier kan sy nie bly nie.
Teësinnig knik sy. “Dit sal gaaf wees. By die naaste garage.”
Toe sy oor ’n los klip struikel, steek hy sy hand na haar uit maar sy tree dadelik weg, nog verder van hom af.
Dis ’n Mercedes, sien sy toe hulle om die motor loop. Hy maak die agterste deur oop. “Hier.”
Onwillig hink sy nader, sukkel om haar seer lyf ingeskuif te kry. Maar die gedagte aan die donker bosse om hulle laat haar die skreeuende pyn in haar heup ignoreer. Met ’n dankbare sug sak sy eindelik in die sagte sitplek terug.
As hy haar net iewers kan aflaai.
Sy verstyf toe hy naderkom en gryp vervaard na die pepersproeihouertjie op haar skoot. Maar hy ignoreer dit, en toe hy in die klein ruimte inleun, hang die geur van suurlemoen om haar. Sy trek haar asem sidderend in toe hy die veiligheidsgordel bokant haar skouer uittrek en in haar bewende hand sit.
Hierdie dag raak nou te lank, dink sy en maak haar oë vinnig toe in die hoop dat hy sal padgee. Maar hy bly binne die kring van die binneliggie van die motor op sy hurke langs die oop deur sit totdat sy hulle weer oopmaak.
’n Sterk gesig, sien sy gelate, hoekig. Vierkantige ken, prominente neus, breë voorkop onder die swart hare en welige swart wenkbroue bokant die skerp blou oë wat uitstaan teen die bruingebrande vel. Blou oë met fyn lagplooitjies om die hoeke.
“Hei,” sê hy sag en dit voel vir haar asof hy met daardie ondersoekende blik tot reg in haar siel inkyk. Sy maak haar oë dadelik weer toe. Sy hoop nie hy kan nie. Haar lewe en haar probleme is haar eie. Sy sluk, loer na hom en soek desperaat na iets om te sê om die spanning in haar te breek: “My Polo lê in die sloot.”
Die blou oë kreukel vir ’n oomblik, maar bly skerp op haar gerig, die diep stem gerusstellend: “Ongelukkig, ja. Maar jy kan nou ontspan, jy is veilig.”
Sy wil hom glo, maar tog. Sy sluk. “Wie’s jy?”
“Markus.”
Haar stem sukkel deur haar droë keel. “Ek is Alana.”
“Ek gaan na die sny langs jou kop kyk. Oukei?” Hy wag nie op haar reaksie nie, maar vat haar ken ferm vas en draai haar kop versigtig in die lig in. “Dit het beslis aandag nodig. Ek gaan jou ongevalle toe neem.”
Dit gaan te maklik wees, dink sy, om iemand net te laat oorneem. Om nie meer hoef te dink nie. Te gevaarlik. Sy lig haar hand op en voel die hare wat nat teen haar slaap vasklou. “As jy my net iewers kan aflaai. By ’n kafee of ’n garage. Enige plek eintlik.”
Hy glimlag net toe hy opstaan en die motordeur toemaak.
Eers toe hulle begin ry, merk sy dat daar nog iemand in die motor is. ’n Vrou. Blonde hare in ’n rol agtertoe gekam, met ’n elegante knip vas. En ’n rooi sybloes, sien sy tussen die sitplekke deur.
Hulle is op pad uit vir die aand. En nou voel hulle verplig om haar te help.
Sy leun vorentoe. “Jy kan my sommer by die eerste garage aflaai, ek sal regkom. Ek is jammer ek het julle tyd vanaand gemors.”
Die vrou praat vir die eerste keer. Haar stem lig en effens beskuldigend, klink dit vir Alana. “Ja, Sullivan-hulle wonder seker al wat van ons geword het.”
“Ons het gesê dat hulle nie vir ons moet wag nie, Isolde. Maar as jy wil, laat weet hulle net weer.” Hy kyk in die truspieëltjie agtertoe. “Dit gaan geen verskil aan die aand maak as ons jou eers aflaai nie,” kom sy stem beslis.
Alana sit terug, maak haar oë toe. En ’n uur gelede het sy gedink hierdie dag kan nie slegter nie! Sy skud haar kop. Wys jou net, ’n mens weet nooit wat voorlê nie.