Die spel van liefde – Corné van Rooyen

by Romanza 0 Kommentaar

“Wil jy nie vanaand saam met my iewers gaan eet nie?” vra Markus toe hulle klaar is en hy saam met haar uitstap.

“Hoekom? Sedert ons verloof geraak het, het jy altyd verskonings om nie enige tyd saam met my te spandeer nie. Eers nou nadat ons die kontrak geteken het, stel jy skielik daarin belang om my weer uit te neem? Los my uit, Markus. Ek trou mos Saterdag met jou.”

“Is dit hoe jy wil hê ons huwelik moet begin, Izette?”

“Hoe ons huwelik gaan begin, Markus, hang van jou af. Ons ken mekaar nie regtig nie en dis nie asof jy eens probeer om my beter te wil leer ken nie.”

“Jy is reg,” gee hy skaam toe. “Jy het tot dusver nog probeer, maar ek nie, en ek is baie jammer daaroor.”

“Geen verhouding kan werk as albei partye nie probeer nie, Markus. Ek moet gaan. Dit was ’n baie lang dag en ek is redelik moeg.”

“Ek is jammer, ek het nie gedink nie,” sê hy verskonend.

“Vergeet dit,” sê sy. “Sien jou.”

In haar roomkleurige rok met die wye romp, nou bostuk met dun bandjies wat oor haar skouers strek en met ’n satynlint om haar middel gebind, lyk sy vir haarself baie anders as gewoonlik. Sy weet nie hoekom nie, maar selfs met haar hare wat in krulle op haar skouers hang, lyk sy skielik vir haarself ouer, dink Izette waar sy voor die spieël staan.

Dis vandag haar troudag, dink sy, en wens dit was onder ander omstandighede. Vandag verlang sy baie na haar ma. Sy wens sy was nou hier, maar in ’n mate is sy seker, dink Izette hartseer en streel oor die pêrelhalssnoer om haar nek wat aan haar ma behoort het. Sy troos haarself dat al is haar ouers nie hier nie, hulle steeds naby haar hart is.

Haar maag maak snaakse draaie en sy voel hoe die naarheid in haar keel opstoot. Dis net van die spanning, dink sy en haal ’n paar keer diep asem. Sy wonder of Markus net soos sy voel.

Sedert daardie dag in sy kantoor het hy probeer om meer tyd saam met haar te spandeer. Hy het haar bederf, selfs in die aande ná werk na haar woonstel toe gekom en by haar gesit terwyl sy vraestelle opgestel of nasienwerk gedoen het. Hy probeer wel, dus kan sy nie kla nie. Sy wens net hulle het vir die regte redes getrou, dink sy en streel oor haar middel wat reeds groter vertoon, maar steeds onopsigtelik is vir ander.

Met ’n sug draai sy weg van die spieël af en gaan sit op die bed toe daar ’n klop aan die deur is.

“Dis ek, Erna. Kan ek inkom?” vra Erna deur die toe deur.

“Natuurlik,” sê Izette. In Erna het sy die suster gevind wat sy nooit gehad het nie, maar ook ’n baie goeie vriendin.

“Sjoe, maar jy lyk baie mooi,” sê sy opreg. “Markus weet net nie wat wag op hom nie.”

“Is ons besig om die regte ding te doen, Erna?” vra sy bekommerd.

“Dat jy bang is, is heeltemal te verstane, Izette. Op my troudag wou ek weggehardloop het. Ek het myself in die badkamer toegesluit en gesê ek wil nie meer trou nie. Ek het geweier om daar uit te kom,” vertel Erna glimlaggend.

“Wat het toe gebeur?” vra Izette nuuskierig.

“My ma het vir Ruben vertel en hy het gedreig om die predikant te gaan roep, dan die deur af te skop en net daar in die badkamer met my te trou. Ek wou nie met rooigehuilde oë en in my onderklere trou nie, so ek het maar besluit om uit te kom,” vertel Erna laggend.

“Dit sou interessante troufoto’s gewees het,” sê Izette en glimlag.

“Inderdaad. Ruben terg my tot vandag toe nog daaroor. Op elke huweliksherdenking kry hy so ’n skelm laggie dan weet ek sommer waaraan hy dink,” sê Erna.

“Ten minste was julle lief vir mekaar. Party dae wonder ek of Markus ooit enigsins iets vir my voel,” sê sy hartseer.

“Markus was nog nooit een wat maklik vertel het hoe hy voel nie, maar hy is ’n goeie man, Izette, en hy sal ’n wonderlike pa wees. Ons almal dink jy is die regte vrou vir Markus en ek glo dat julle julle huwelik kan laat werk as julle regtig wil,” sê Erna.

“Ek wil baie graag,” erken Izette.

“Dan probeer jy. Kom, jou bruidegom wag vir jou.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>