Want die hart weet – Elsa Winckler

by Romanza 0 Kommentaar

Simoné kyk op haar horlosie. Dis al kwart voor vier en daar is nog geen teken van iemand wat lyk of hy of sy oor wynetikette wil gesels nie. Jody was baie vaag, sy weet nie eens of sy vir ’n man of ’n vrou wag nie. Die kelner bring haar koffie wat sy bestel het en sy haal haar sketsboek en ’n potlood uit.

Die koffiewinkel is in ’n ou huis wat omskep is, en sy het ’n tafel gekies in een van die kleinerige kamers sodat sy en wie ook al met haar wil gesels, ’n bietjie privaatheid kan hê.

Haar hand begin teken nog voor sy baie daaroor dink. Minute later staar sy verstom na die tekening. Verbouereerd blaai sy vinnig om na ’n skoon bladsy. Dis asof sy ’n flippen one-track mind het en net aan een ding . . . oukei, maak dit net een mens dink. Dis tog heeltemal belaglik.

Daar is ’n beweging by die deur en sy kyk terloops op. Die volgende oomblik stik sy in die sluk koffie wat sy so pas geneem het. Wat op aarde soek Wessel Barendse op ’n Dinsdagmiddag in ’n koffiewinkel op die dorp? Hy gesels met die kelner en sy rug is vir die oomblik na haar gedraai.

Tensy … Simoné trek haar asem skerp in. Natuurlik. Jody. Dis só ’n klassieke Jody-bewimpeling, as sy nie so vies was nie, het sy gelag. Sy kan nie wag om vir Sabrina en Katryn hiervan te vertel nie. Dis presies die soort ding wat Jody met beide van hulle en met Josh gedoen het en vandag is al drie van hulle getroud!

Wel, sy wat Simoné is, is nie onnosel nie en sy kan op ’n afstand sien die afspraak is een van Jody se nie-so-subtiele pogings om vir haar ’n man te kry.

Sy hoes nog, toe sy die paar skoene langs haar tafel opmerk.

“Simoné.”

Met ’n laaste hoes lig sy haar oë. Flippit, die man se blou oë het maar net ’n manier om haar binnegoed in jellie te verander.

Sy gryp haar sketsboek en staan vinnig op terwyl sy haar handsak oor haar skouer hang. “Hierdie is nou weird verby. Kom ek raai. Jody het jou gebel en vertel van iemand wat die wonderlikste wynetikette vir jou kan ontwerp?” vra sy sonder om te groet.

Hy lig ’n wenkbrou en vou sy arms. “Nie in daardie presiese woorde nie, maar min of meer.” Sy kop draai en hy kyk om hulle rond. “Ek neem aan jy is die persoon met wie ek daaroor kan gesels?”

Sy gooi haar hand moedeloos in die lug. “Soos ek sê, weird! Ek is jammer jy het jou tyd gemors. Soos ek haar ken, het sy jou heel waarskynlik oortuig jy het nuwe etikette vir jou wyne nodig.” Sy beweeg deur se kant toe. “Jody het hierdie belaglike idee in haar kop om al haar peetkinders getroud te sien. Wanneer enige iemand wat haar goedkeuring wegdra in haar visier kom, beweeg sy hemel en aarde om die persoon aan een van haar peetkinders voor te stel. Ek is ongelukkig een van drie wat nog nie getroud is nie en sy het besluit jy . . .”

Berge val op haar. Dis een ding om te dink aan wat Jody besig is om te doen, dis ’n heel ander ding om dit hardop voor Wessel te sê.

“Ek is wat?” vra Wessel fronsend, duidelik heeltemal onbewus van Jody se planne.

Simoné hap in die lug. Hoe verduidelik ’n mens Jody aan iemand? “Sy het besluit jy is … jy is … wel, ’n goeie idee vir ’n man vir my.”

Verskillende emosies gly oor sy gesig – verstomming, irritasie en uiteindelik, wat sy glad nie verwag het nie, lag hy. ’n Kuiltjie duik vir ’n millisekonde in sy wang voor dit weer verdwyn. “So dís waarmee sy besig is. Ek wonder nou nog hoekom ek haar Knysna toe moes neem.”

Simoné druk haar hande teen haar gloeiende wange. “Ek het nie toe gedink sy beplan iets onderduims nie! Die pennie drop nou eers maar sy was heel waarskynlik toe al aan die konkel. Ek is jammer. Jody is my gunstelingmens, ek sal oor warm kole vir haar loop, maar as sy eers ’n idee in haar kop gekry het …”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>